MEIRINGSPOORT GEORGE. – Twee mans is gister dood toe ‘n vragmotor op die N12 by die ingang na Meiringspoort aan Klaarstroom se kant in ‘n rivier beland het. Die mans was werknemers van Kargo, ‘n nasionale padvervoermaatskappy. Die polisie het nog nie hul name en ouderdomme bekend gemaak nie. Die ongeluk het gisteroggend vroeg op ‘n brug naby Klaarstroom by die ingang na Meiringspoort tussen Beaufort-Wes en Oudtshoorn gebeur. Kapt. Bernadine Steyn, ‘n Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê die polisie is omstreeks 07:15 van die ongeluk in kennis gestel. “Na bewering het die bestuurder van ‘n Scania-vragmotor beheer oor die voertuig verloor. Die vragmotor het in ‘n rivier beland. Albei insittendes is op slag dood.” Keri Davids, woordvoerder van die Metro-ambulansdienste, het gesê die Rooi Kruis-lugambulans, Air Mercy Service (AMS) en Metro-reddingswerkers is ontbied. Ook die polisie en verkeersdienste het hulle na die toneel gehaas. Die swaarvragmotor se kajuit het in die water gelê met ‘n deel van die sleepwa in die pad. Die rivier vloei taamlik sterk nadat goeie reën onlangs hier geval het. Volgens Davids het reddingswerkers ‘n lyk in die kajuit gekry en nog een onder die wa. Die pad is nie vir die verkeer gesluit nie, maar die verkeer is wel gereguleer. Greg Blackwell, besturende direkteur van Kargo, het gesê die mans se gesinne is reeds van die ongeluk in kennis gestel. Volgens hom is die oorsaak nog onduidelik. “Ons weet nie wat gebeur het nie. ‘n Vars bestuurder het oorgeneem toe die ongeluk gebeur het. Daar was ‘n kamera in die vragmotor en ons hoop dit kan moontlik lig op die voorval werp.” Die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag.
Article: Die Burger ( Kaap Stedelik)
Datum: 11 Junie 2013, Bl. 10
Joernalis: Jackie Kruger